Slag van Driefontein

1901-09-10

Slag van Driefontein

Skets van die ABO

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG – Die Slag van Driefontein het op 10 September 1901 gedurende die Tweede Vryheidsoorlog, tussen Laingsburg en Ladismith, teen die agtergrond van die Swartberge in die Klein Karoo plaasgevind. Dit was gedurende die guerrilla-fase van die Tweede Vryheidsoorlog toe Republikeinse Boere die Kaapkolonie binnegeval het, en Kaapse Rebelle gewerf het om die stryd teen Brittanje op eie bodem voort te sit. Dit is ‘n tragiese verhaal van verraad, onkunde, flinke militêre optrede en erge bloedvergieting.

Teen sononder van 09 September het ‘n kommando van 79 burgers, Republikeine sowel as Rebelle, onder bevel van Kommandant Pieter van der Merwe (17), die jongste Boere-kommandant van die ABO, op Driefontein aan die voet van die Swartberge aangekom. Die plaas is nog daar en een van die huisies, wat ‘n eeu gelede deel van die opstal was, staan nog.

Die kommando het dié dag egter verby die opstal gery in die rigting van Damfontein en die ander gedeeltes van Driefontein, waar Jan Langeveld en Abraham Jacobs gewoon het. ‘n Paar honderd meter aan die noordekant van Jacobs se huis, langs die pad van Laingsburg af, het die bruin man Johannes Spochter gewoon. Die huise van Langeveld en Jacobs was omring deur hoë rante van sowat 300 m op 10 hektaar, ‘n gevaarlike plek vir ‘n kommando om te oornag.

Dit is duidelik dat Van der Merwe nie geweet het nie (of is dalk verkeerd ingelig) hoe die paaie daar loop en hoe ver Laingsburg (40 km) daarvandaan was. Ook was hy onbewus van die pad wat uit die noorde verby Spochter se huis die klein vallei binnekom.

Van der Merwe het wel verwag dat die Britte hom vanuit die rigting waaruit sy kommando gekom het, sou agtervolg. Dus het hy brandwagte in daardie rigting uitgeplaas, asook in die rigting van Damfontein. Skynbaar het hy die pad verby Damfontein as die roete na Laingsburg beskou. Sy versuim om voldoende brandwagte uit te plaas, was strydig met die gebruik van die Boere.

In die nag van 09 op 10 September het ‘n plaaswerker die teenwoordigheid van die kommando aan die Britte onder Kolonel E.M.S. Crabbe aangemeld. Die werker het die soldate in die donker na die plaas gelei en hulle het in die koppe om die opstal stelling ingeneem.

Een van die burgers, J.A. Smith, skrywer van “Ek Rebelleer”, Nasionale Pers, 1939, was ‘n 14-jarige rebel van Aberdeen. Hy vertel soos volg:

Weens die misreën daardie nag het die meeste burgers in die huisies gaan slaap. Vroeg die volgende oggend, toe dit lig word, het ek opgestaan en na die tuin voor die huis gegaan om na my perde te kyk. Die toppe van die rante rondom ons was in mis gehul. In die ander huisie, honderd treë verder, het die kommandant en ander geslaap. Etlike burgers het in die boord en langs die landmuur geslaap.

Toe ek in die tuin voor die deur kom, hoor ek in die rigting van die rantjies reg voor en ongeveer driehonderd tree van my af ‘n Engelse bevel. Ek steek vas en kyk in dié rigting, maar sien niks. Dieselfde bevel hoor ek in die rigting links agter die boonste huisie waar die kommandant slaap.

Ek draai om die ander te wek. Voor ek die deur haal, skiet die Kakies ‘n bol stof voor my voete op en toe ek die deur inspring om my geweer en baadjie te gryp, kletter die koeëls voor teen die huis. Die vyand skiet so geweldig op die deur dat ons agter moet uit. Hulle storm toe ook reeds in die land tussen ons perde deur op die huis af. Ons is heeltemal omsingel.

Daar was geen agterdeur nie, net ‘n klein kombuisvenstertjie. Soos rotte moes ons agtermekaar deur klouter en elkeen wat grondvat, word van weerskante onder die koeëls gesteek.

Die hele toestand was meteens een groot verwarring. Manne hardloop in alle rigtings, sommige skiet op die aanstormende vyand en ander probeer van die perde vang wat heen en weer tussen ons deur hardloop en een na die ander getref word. Enkele burgers wat hul perde die nag vasgebind het, probeer ontvlug. Ander skuil waar hulle kan en skiet op die aanstormende en skreeuende vyand.

‘n Paar van ons hardloop na die stalletjies tussen die twee huise. Daar was die Kommandant besig om sy perd aan die teuels na buite te trek. Toe die perd se voorlyf by die deur uitkom, word hy platgeskiet. Dieselfde gebeur met die tweede. Die vyand het reeds besit van die huisie waarin ons geslaap het en Ben Smith en ene Hattingh is gevange geneem voordat hulle kon uitvlug. Hulle skiet daarvandaan op ongeveer tagtig treë na ons en roep ons toe om ons oor te gee.

Die kommandant en ‘n paar ander hardloop van die stalletjie regs om die boonste huisie en ‘n paar ander links om. Hiervandaan probeer ons die aanstormende Kakies terugskiet. Intussen storm ander Kakies van die linkerkant onder dekking van die vrugteboord, en ander neem skuins agter ons op ‘n koppie, nie honderd treë van ons af nie, posisie in.

Die digtheid van die takke van twee groot bome agter die huisie het vir ‘n oomblik dekking verleen, of altans dit vir die Kakies moeilik gemaak om op ons te mik. Dit duur egter nie lank nie of van ons op die hoek van die huis word getref. Sarel du Plessis val agter my met uitgestrekte arms op ‘n takheininkie, deurboor met koeëls en word so aanhoudend getref dat die bloed in stroompies deur die takke na benede vloei.

Die Kakies probeer om verby die stalletjie veertig treë van ons te kom, om die ander hoek van die huis waaragter ons staan te bereik. Telkemale probeer hulle, maar deins terug as ons die voorstes doodskiet.

Regs van ons, agter ‘n groot lang klip, staan Piet Rautenbach en skiet die ander Kakies terug wat regs om die stalletjie probeer storm. Bouwer, die jong Adjudant van Kommandant Van der Merwe, spring by ons agter die hoek uit en probeer ontvlug, maar word getref en kruip op hande en voete tussen my en Veldkornet Du Plessis verby, die huis in. Du Plessis, ook gewond, sukkel agter hom aan na die agterdeur. Stukke pleister val van die muur waaragter ek staan soos die Kakies skuins van agter op my skiet.

Kommandant Van der Merwe, wat met Piet Naude en Ben Burger by die ander hoek staan en met sy rewolwer die Kakies, wat uit die boord op hom aangestorm kom terugskiet, word dodelik deur die hart getref en val vooroor op sy gesig.

Op hierdie kritieke oomblik sien hulle wat by hom was ‘n paar perde by ‘n afdak langs my, en ons pluk die perde uit en jaag bloots agter die huis uit onder die geskreeu van `Hands up!’ en `Stop, you d… Dutchmen!’

Intussen het die Kakies die hele plaas omsingel en besit van die werf geneem. Oorkant van die rant uit die pad wat van Laingsburg kom, skiet hulle met die kanonne op die vlugtende burgers. Dit was tevergeefs, want die vlugtendes was toe al agter die beskerming van die rant op pad verby die opstal van Damfontein.

Smith en nog 27 ander, waarvan sommige gewond was, het gevlug en is na Seweweekspoort oor die berge na Koppieskraal in die distrik Prins Albert, waar Kommandant Gideon Scheepers later gevang is.

BRONNaspers - Boer Volk Radio

Donate to Luistervink

Thank you for your donation.